top of page
Search

Skuld en die Dood

Writer's picture: SkuldhulpSkuldhulp


Die pyn wat ons ervaar na die verlies van 'n geliefde verander ons almal. Dit raak elkeen van ons op 'n unieke manier en het ‘n reuse impak op ons lewens. Die laaste gedagte wat jy wil hê terwyl jy rou, is oor enige finansiële verpligtinge of skuld.


Ons almal deel dieselfde vrese wanneer ons, oor ons eie dood dink:


  • Wat gaan van my gesin word as ek sou sterf? 

  • Gaan hulle my skuld erf, of gaan my skuld hulle erfporsie benadeel?

  • Het ek die regte keuses gemaak, of gaan hulle selfs meer ly na my dood? 


In vandag se Skuldhulp-artikel bespreek ons die mees algemene mites oor skuld en die dood. Ons gee ook waardevolle raad oor hoe jy jou gesin en geliefdes kan beskerm teen finansiële uitdagings.


 

Inhoudsopgawe: 



 

Mite 1 – Skuld Volg Jou na die Graf 



Getroude paartjies vrees dikwels dat hulle met hul geliefdes se skuld gelaat sal word. Dit is gewoonlik nie waar nie, maar daar is enkele uitsonderings:


Die finansiële verantwoordelikheid vir 'n oorlede eggenoot se skuld hang af van hoe julle getroud is:


  • Getroud binne gemeenskap van goedere: Wanneer jy binne gemeenskap van goedere getroud is, deel eggenote ALLE bates en skuld. Dit beteken dat albei gades ewe verantwoordelik is vir enige skuld gedurende die huwelik. As jou eggenoot sou sterf, kan jy aanspreeklik wees vir die skuld, aangesien al die skuld as gesamentlik beskou word.

  • Getroud buite gemeenskap van goedere (met of sonder die aanwasbedeling): Enige skuld word as apart beskou, tensy albei gades gesamentlik 'n lening onderteken of gewaarborg het. As jou eggenoot skuld op hul eie aangegaan het, sal jy nie outomaties verantwoordelik wees om dit te betaal nie.



 

Mite 2 – Skuld Sal Jou Erfenis Beïnvloed



Daar is 'n algemene mite dat skuld aan 'n geliefde bly kleef, selfs ná hul dood. Dit is nie waar nie. In sommige gevalle kan skuld egter indirek die erf proses benadeel.


Hoe sal jou skuld die boedel en jou geliefdes se erfenis beïnvloed?


Voordat erfgenames hul deel van 'n boedel kan ontvang, moet alle skuld ten volle vereffen word. As die oorledene 'n aansienlike hoeveelheid skuld gehad het, kan daardie skuld die hele boedel uitput, wat min of niks vir die begunstigdes oorlaat nie.


Wat is 'n boedel?


Wanneer iemand sterf, word al hul eiendom en besittings wat geldwaarde het (soos vaste eiendom, voertuie, geld in die bank, aandele, versekeringspolisse, huishoudelike items en juweliersware) deel van hul boedel.


Twee voorbeelde:

  • As jou geliefde 'n eiendom van R2 miljoen besit het, maar R1,8 miljoen se uitstaande skuld gehad het, sal daar net R200,000.00 oorbly vir die erfgename.

  • As die skuld die waarde van die boedel oorskry, sal geen erfenis ontvang word nie, en die eiendom mag verkoop word om die uitstaande skuld te delg.



 

Mite 3 – Die Oorblywende Eggenoot Kry Outomaties Al die Skuld



Dit is nie altyd waar nie, maar dit hang af van hoe die paartjie getroud was:


  • Getroud binne gemeenskap van goedere: Die oorblywende eggenoot deel die skuld.  Byvoorbeeld, as 'n lening tydens die huwelik aangegaan is, bly die eggenoot daarvoor aanspreeklik.

  • Getroud buite gemeenskap van goedere (met of sonder die aanwasbedeling): Die oorblywende eggenoot is nie aanspreeklik nie, tensy hulle saam die skuld onderteken het.



 

Wat Gebeur Met Skuld Wanneer 'n Geliefde Sterf?


Wanneer jou eggenoot sterf, word hulle boedel verantwoordelik vir die vereffening van alle skuld. Die boedel sluit al hul bates en skuld in. 


Die Eksekuteur van die boedel sal dan die volgende doen:


  • Sal beskikbare bates gebruik om die skuld te betaal.

  • Versprei enige oorblywende bates (nadat die skuld ten volle vereffen is), aan die erfgename.


As die skuld die waarde van die boedel oorskry, sal die boedel as insolvent verklaar word. In hierdie geval sal skuldeisers nie die oorblywende eggenoot aanspreeklik hou vir die uitstaande skuld nie, tensy hulle saam die skuld onderteken het.



 

Hoe Om Jou Gesin te Beskerm Teen Jou Skuld Ná Jou Afsterwe



Deur die volgende proaktiewe stappe te neem kan jy jou gesin beskerm:


  • Beplan vooruit: Gestruktureerde boedelbeplanning wat opgestel word deur ‘n finansiële adviseur, sal duidelik uiteensit hoe skuld vereffen moet word en hoe jou bates onder jou gesin verdeel sal word.

    • Wat behels bedoelbeplanning: Boedelbeplanning is die proses om vooruit te beplan en seker te maak dat jou Testament prakties en uitvoerbaar is. Dit fokus daarop om jou boedel so te struktureer dat boedelbelasting, kapitaalwinsbelasting en skenkingsbelasting so laag as moontlik gehou word, of selfs heeltemal vermy kan word. Deur hierdie stappe te neem, verseker jy dat jou nalatenskap effektief hanteer word en dat jou erfgename nie onnodige finansiële laste of skuld hoef te dra nie.

  • Lewensversekering: Dit is belangrik om voldoende lewensversekering te hê om enige oorblywende skuld, begrafniskoste, en finansiële stabiliteit vir jou geliefdes ná jou afsterwe te verseker.

  • Jou huwelik: As jy binne gemeenskap van goedere getroud is, wees bewus van die finansiële implikasies. Dit mag wys wees om 'n finansiële beplanner of prokureur te raadpleeg om opsies soos 'n voorhuweliks kontrak of 'n nahuweliks kontrak te oorweeg om jou geliefdes te beskerm.

  • Skep 'n trustfonds: 'n Trust stel jou in staat om jou bates vir jou gesin te beskerm en hulle teen skuldeisers te beskerm nadat jy oorlede is.

  • Krediet Lewensversekering: Hierdie tipe polis verseker dat spesifieke skuld vereffen word by jou dood, wat jou gesin se huis, boedel en erfenis beskerm.



 

Skuldhulp is Hier om Jou te Help


Skuldhulp staan gereed om jou te help om jou skuld te bestuur en jou finansies weer op koers te kry.




79 views0 comments

Recent Posts

See All

Comments


Skuldhulp WhatsApp Kontaknommer
bottom of page