Dit is ongelooflik persoonlik. Selfs om net hierdie woorde te skryf, voel soos om 'n geheime laai van my lewe oop te maak. 'n Laai wat ek baie goed weggesteek het.
Elkeen van ons het 'n storie. Ek besef dat almal deur die hoogtepunte en laagtepunte van die lewe gaan. Ek is nie spesiaal of uniek in hierdie opsig nie. Ek weet ook dat baie mense sukkel en baie innerlike pyn ervaar. Almal veg een of 'n ander stryd.
Hierdie is die storie van my stryd. Dalk is dit meer 'n oorlogsverhaal. Dit is 'n storie oor hoe ek amper alles verloor het, insluitend myself. Ek hoop dat my besluit om hierdie geheime gedeelte van my lewe te deel, selfs net een persoon kan help.
Miskien is jy daardie persoon. Aan die een wat hierdie woorde lees en dalk dele van hulself in my storie herken, wil ek sê: daar is hoop. Daar is altyd 'n uitweg.
Dit mag dalk na 'n cliché klink, maar daar is een feit wat ek met sekerheid weet: “Sukses is nie finaal nie, mislukking is nie fataal nie; dit is die moed om voort te gaan wat tel.”
Dis siklus van beheer en skuld
Vir 12 jaar was ek in 'n verhouding met 'n alkoholis, ‘n dobbelverslaafde en ‘n vroue mishandelaar. Ek het nooit die tekens gesien nie, ek het nooit werklik besef hoe drasties my lewe sou verander om saam met ‘n verslaafde te lewe nie.
Nooit het ek gedink, dat iemand aan my sou ruk en pluk en mishandel nie, nooit het ek dit sien kom dat ek emosioneel afgetakel sou word nie. Maar wat my tot vandag toe pla is dat ek nooit in my lewe gedink het, dat ek “een van daardie vrouens” sou wees nie - die vrou wat bly. Maar dit was ek, en ek verstaan nou hoe ongelooflik moeilik en amper onmoontlik dit is om uit so ‘n haglike verhouding te kom.
Die beheer wat op my uitgeoefen was, was stadig, maar seker. Sonder dat ek dit besef het, moes ek finansieel vir alles voorsien. Daar was altyd 'n verskoning of ‘n “rede” waarom ek verantwoordelik was om die rekeninge te betaal, van kos tot elektrisiteit.
Ek het alles gekoop, die TV wat hy wou hê, die duur meubels, selfs die vakansies wat veronderstel was om ons verhouding te “red”. Ek het elke leuen en belofte geglo en so het die donker pad van my persoonlike lenings begin.
My lewensmaat het begin aandring op spesifieke items, insluitend duur kos, toiletware en meubels wat vir ons huis aangekoop moes word. Alles moes van ’n sekere “standaard” wees. Omdat hy in armoede grootgeword het, was “rykdom” vir hom uiters belangrik.
Dit het so maklik geword om aansoek te doen en krediet te kry. Ek was absoluut onkundig oor rentekoerse. Ek kon letterlik alles bekostig.
Ek het die verhouding verskeie kere verlaat en ongelukkig weer al die leuens geglo en na hom teruggegaan. Ek is vals beloftes aangebied wat ek as opregte liefde gesien het. Hoe dom en naïef was ek. Moet my asseblief nie oordeel nie; ek oordeel myself elke liewe dag.
Die wasmasjien effek
Tussen deur al die hartseer en geweld, het die maatskappy vir wie ek gewerk het, finansieel agteruit gegaan. Salarisse is later en later betaal. Maand na maand het my debietorders laat afgegaan. Toe kondig my werkgewer aan dat al ons salarisse tydelik verminder moes word om afdankings te vermy. Dis waar my lewe in donkerte verval het.
Ek was so moeg om saam met ’n monster te bly en ook die voorgee dat ek gelukkig was. Ek het geen selfwaarde meer oorgehad nie en my finansies het buite beheer geraak. Ek moes elke maand korttermyn lenings uitneem net om deur te kom. My oortrokke fasiliteit het ek keer op keer verhoog sonder om werklik te verstaan wat ek doen. Al wat ek geweet het, was dat ek geld nodig gehad het om my skuld te betaal.
Ek het myself as pateties gesien en geglo dat niemand my sou aanstel nie, dat ek nie goed genoeg was om vir ‘n nuwe werk te soek nie. My lewensmaat het dit elke dag in my ore gesê: “Jy is niks werd nie.”
Geld groei nie aan bome nie
Ek het nie meer geld gehad om vir alles te betaal nie. Uiteindelik kon ek nie meer lenings kry nie. Ek het begin om my kosbaarste besittings by pandjieswinkel te verkoop: my ouma se juwele, kombuisware, enigiets wat ek kon kry.
Dit was hartverskeurend. Ek het besittings verloor wat ek nooit weer sal terug kry nie. Kosbare items wat ek moes verkoop om my skuld te betaal.
Maar die leuens op Facebook, my “perfekte” lewe het aangehou, niemand het werklik geweet waardeur ek gaan nie. Alles was ‘n klug.
Eindelose oproepe
Die eerstekeer wat ek nie my huisverband kon betaal nie, sal ek nooit vergeet nie. Ek kon niks meer betaal, elke debietaftrekking het een vir een net so terug gekom. My selfoon het aanhoudend gelui, en ek het elke oproep gevrees.
Ek het geweet dis die bank wat gaan sê dat hulle gaan my huis gaan vat. My vrees dat ek op straat gaan beland was besig om ‘n werklikheid te word. Ek het in ’n diep gat van depressie geval. Tussen deur die anti-depressante, het ek my pyn probeer weg drink en eet, niks het gehelp nie. My lewe was verby, daar was geen meer rede om hier te wees nie.
Die Facebook-advertensie wat my lewe verander het
Dit was omtrent twee uur in die oggend, ek kon nie slaap nie en was in toestant omdat ek nie genoeg petrol gehad het, om oor ‘n paar uur werk toe te ry nie. Ek het nie geweet wat ek gaan doen nie. Om eerlik te wees, het ek selfs daaraan gedink om alles net te beëindig. Dit was my laagste punt.
Ek was op Facebook toe 'n video skielik op my skerm verskyn. Dit het 'n hartseer vrou gewys wat effens soos ek gelyk het. Die video het 'n eenvoudige vraag gevra: “Voel jy of jy verdrink in skuld?”
Dit was die eerste keer dat ek regtig van skuldberading gehoor het. Tot op daardie stadium het ek gedink skuldberading is wanneer jy op die swartlys geplaas word.
Dit is glad nie.
Om 'n lang storie kort te maak: Ek het 'n vorm ingevul waar ek gevra het dat 'n skuldberadings-konsultant my moet terug bel. Ek het letterlik niks meer gehad om te verloor nie. Ek was so moeg. Ek het geen hoop meer oorgehad nie. Ek het so alleen gevoel. Ek het soos 'n mislukking gevoel. My lewe was in stukke.
Later die oggend het die vriendelikste skuldberader my gebel. Hy was so gaaf en ordentlik. Hy het my glad nie laat voel asof ek 'n mislukking is nie. Hy het aanhoudend vir my gesê: “Jy is nie alleen nie”, en “alles gaan regkom”. Ek onthou hoe ek in trane uitgebars het oor daardie foon. Vir die eerste keer in 'n baie lang tyd het dit gevoel asof ek 'n vriend gehad het wat my kon help. ’n Vriend wat ek kon vertrou. ’n Vriend wat my donker geheime verstaan.
Ek moes tot op daardie punt kom om te erken dat ek 'n probleem gehad het en dat ek hulp nodig het. Om dit te erken, was ‘n draaipunt in my lewe.
Om vir hulp te vra is die eerste stap. “Wees sterk genoeg om alleen te staan, slim genoeg om te weet wanneer jy hulp nodig het, en braaf genoeg om daarvoor te vra,” – baie kragtige woorde inderdaad.
Nou glo ek in hierdie woorde.
Twee jaar later
Ek is nou al net meer as twee jaar onder skuldberading. Daar is ’n plan vir my lewe. Ek sal skuldvry wees. Ek betaal net een maandelikse bedrag vir al my skuld. My persoonlike skuldberadingsplan sorg ook dat ek genoeg geld oor het nadat ek die gekonsolideerde bedrag betaal het.
Ek kan asemhaal, ek het my waardigheid terug gekry.
Niemand bel of stuur vir my boodskappe om te sê ek skuld hulle geld nie.Ek dink nie meer elke minuut oor my skuld nie. Ek kan weer gelukkig wees.
My lewe het heeltemal verander. Daar is vriendelike en eerlike mense wat regtig wil help. Ek is bly dat ek dit nie alles beëindig het nie. Ek moes alles verloor om myself weer te vind.
Skuldberading het my lewe gered.
Letterlik.
Comments